Praat jou taal!

VIR die meeste Engelssprekendes is Afrikaans nogal ’n moeilike taal om te bemeester.

My boetie het ’n Engelse vriendin en het dit op homself geneem om haar bie­tjie touwys te maak. Maar in plaas daarvan om haar oor basiese struikelblokke soos die dubbel-nie in te lig, het hy sommer weggespring met woorde wat nie juis in alledaagse gesprekke gebesig word nie.

Die eerste paar woorde van haar Afrikaanse woordeskat sluit in: trapsuutjie en verkleurmannetjie, kabouter, appelliefie, kastaiing en kaiings (met ’n in-diepte verduideliking in hoog-Hollands oor wat die verskil tussen die laaste twee is).

Sy Afrikaanse verduideliking vir ’n sigaret aansteker is as volg: “’n vinger-geaktiveerde, gas-aangedrewe, tabakrolletjie aan­- steek­meganisme”!

Dit het my weer laat besef hoe mooi Afrikaans eintlik is. Daar is baie woorde wat tog só beskrywend is.

Van my gunstelingwoorde sluit in: bromponie, kotiljons, skoppelmaai, koffers, kabaal, patats en pondok. Agterlosig, aapstert en sprinkaan. Hotkant en haarkant, kamma, vabond en vent. En natuurlik my gunsteling, hottentotsgod.

’n Skorriemorrie is ’n skurk, en as jy in ’n dikkedensie beland, is jy in die moeilikheid! En as iemand aldag siekerig is, is hy mankoliekerig.

Dis ook net in Afrikaans wat jy sal sê: “Hy het sulke regte sekretarisbene” (lang maer beentjies) of “agter-os kom ook in die kraal” en “om oor koeitjies en kalfies te gesels”.Iemand wat effe besope is, het in die “hoenderhemel” beland en ly die volgende dag aan ’n “babelaas”.

As Afrikaanssprekendes het ons nog altyd die gewoonte om oor te slaan na Engels toe sodra iemand klink asof hulle net effens sukkel om ons taal te praat. Dit is dalk ’n ingebore ordentlikheid, maar terselfdertyd maak ons eintlik ’n groot fout.

Ons moet juis ons taal meer praat, dan sal al die mooi woorde, wat ons stadig maar seker besig is om te vergeet, ook ’n kans op oorlewing hê.

So sprak jou sprook, en praat ons pragtige taal!

Begrotings begrotings begrotings

MY begroting het dié maand vir die eerste keer uitgewerk!

Ek is baie opgewonde oor die feit dat pay day gekom het, en ek vir ’n verandering petrol in my kar gehad het en nie op walms gery het soos in vorige maande nie.

Ons maatskappy het met die briljante idee opgekom om ons almal deur sulke finansiële sessies te laat sit om te leer hoe om jou geld beter te bestuur. My ma het my probeer leer van begrotings, maar dié kursus het dit ’n bietjie eenvoudiger gemaak om toe te pas.

Hier is ’n paar wenke van die finansiële ghoeroe, prof. Matthew Lester, van die Rhodes-universiteit.

Hy het aan ons verduidelik hoe om ’n begrotings op te stel. Myne is al lankal gedoen (as ek net daarby kon bly), maar die idee is om dit so eenvoudig moontlik te hou.

Lys jou inkomste (ná al jou aftrekkings gedoen is) en oorkant dit al jou uitgawes. Huur, water en ligte, en aftrekorders.

Dit behoort aan jou ’n idee te gee van hoeveel geld jy dan het om te spandeer. Maak dan seker jy hou by die bedrag. Jy weet dan hoeveel jy het om per dag, of per week, te spandeer, soos om vir jouself sakgeld te gee.

Dit gaan jou dan ook ’n idee gee van hoeveel jy het om te spaar.

Die meeste van ons het skuld, maar jy kan nie verwag om dit alles in een slag af te betaal nie. Begroot eerder beter om dit oor ’n tydperk af te betaal.

Lester het ook vertel hoe beleggings werk en aanbeveel dat ’n mens ’n “Bucket List” moet maak.

Dit is moeilik om te spaar as jy nie ’n doel het nie. Skryf tien dinge neer, soos om ’n motor of ’n huis te koop, of daardie nuwe motorfiets en swembad wat jy wil installeer. Lys hulle in orde van belangrikheid en haal die dinge van die lys af wat jy weet onmoontlik is om te bereik.

Hierna kyk jy na beleggings.

Daar is drie soorte beleggings: konserwatief, middelmatig en aggressief. Vir iets soos ’n deposito vir ’n nuwe kar, sal jy vir drie tot vyf jaar moet spaar. Die risiko is min, en die belegging gaan nie soveel geld trek nie.

Vir beleggingsdoelwitte soos jou kinders se universiteitsgelde, moet jy
sommer vroeg reeds begin spaar, en in ’n meer aggressiewe belegging (van vyf tot vyftien jaar) belê.

Volgens Lester is jou aftrede die belangrikste ding om voor te spaar. Daarvoor moet jy sommer vroeg reeds begin belê. Hoe langer die geld lê, hoe groter is jou belegging.

Ek laat julle met een van sy “waarskuwings”: “Hoe langer jy wag, hoe groter is die probleem wanneer dit aanbreek.”

Moenie eers laat ek begin nie

ALMAL het dinge wat jou bloeddruk sommer die hoogte laat inskiet. Sommige dae is dit erger as ander.

Die simpel ou in die blink motor voor jou wat nie weet hoe om by ’n groen lig weg te trek nie, die man wat sukkel-sukkel oor die pad loop, drie meter voor die voetoorgang. Justin Bieber, daai simpel kassier wat drie dae vat om twee rand vyftig uit die kleinkas te haal as jy haastig is, Justin Bierber, ’n motor se alarm wat skree en niemand sit dit af nie, en moenie eers praat van die taxi wat voor jou injaag en dan vyf meter verder sommer net daar in die pad stop.

Hier is ’n paar dinge wat ek regtig nie kan verstaan nie:

Facebook status updates en foto’s: In die eerste plek; as jou foto-album die naam “mY aWêS0mE Tr0uDag mEt mY $exY PoKkEltjIE” is, is jy heeltemal te flippen jonk om te trou. Leer darem eers spel. En leestekens gebruik. Sulke skrif behoort nêrens toegelaat te word nie. Nie jou Facbook, of SMS’s, of op papier nie. Nou weet ons almal hoe blond jy is, selfs al sê jou foto’s anders. Jou vriende wil ook nie jou nuutste sonar sien of hoor wat jy in die badkamer of die slaapkamer gedoen het nie. Ons gee ook nie om of jou neus weer loop/jou blaasinfeksie weer opvlam/jou Pokkeltjie siek is nie.

Badkamerdeure: Dis die een ding wat my verstand te bowe gaan. Hoekom maak álle publieke badkamers se deure altyd binne-toe oop. Jy’s binne, jy was jou hande, maak dit droog, maar dan moet jy aan die bakterie-geïnfesteerde deur vat om buite te kom. Of wag vir die volgende uur sodat iemand dit vir jou kan oopmaak.

Kinders: Kyk, ons almal verstaan dat jong kinders nie altyd maklik is om te beheer nie, maar as jy weet jou kleinding is nie van die soetste ooit nie, is dit régtig nodig om hom saam te vat na die kerk/vergadering/winkel waar sy geneul dawerend deur die gebou gaan weerklink? As jy kliphard op jou selfoon in ’n winkel praat, is jy nét so irriterend. Veral as jy jou bloutand-dongle aan jou oor vashet. Jy lyk stupid.

Honde: Dieselfde geld vir honde wat mense nie kan beheer nie. My swart kleure en duur sykouse kan nie jou hond se modderige pote se aanslag en harige afwerpsels hanteer nie. Hou tog net die ding onder beheer.

Padverbruikers: Daai simpel… (Rubriek verkort – Red.)

My vriend die dominee

DIS vreemd hoe mense partykeer ‘n impak maak op jou lewe sonder dat jy eers weet dat dit gebeur.

Ek het vir ‘n tyd in dieOos-Kaap gebly in ‘n klein kusdorpie. Dáár was ek vir ‘n tydperk baie soet, en het kerk toe gegaan en met daardie goeie tipe mense rondgehang.

Ek het toe ook ‘n jong jeug-pastoor ontmoet. Hy was nie besonders good-looking of charismaties of enige dinge wat ek van ‘n man hou nie, maar vir ‘n week-lank het ek met die seun so half en half uitgegaan. Ek was sommer vinnig verveeld, en dus is ons toe uitmekaar, maar ons het steeds vriende gebly.

En toe hoor ek nou die dag. Hy was maar 25. En hy’s dood. In sy slaap.

Ek hoop jy is gelukkig. Ek hoop jy het gedoen wat jy kon terwyl jy hier op aarde was en dat jy jou goddelik doel kon bereik. Ek glo jy het.

Ek blaai so nou en dan deur die boeke wat jy vir my gegee het. Een oor God se liefde en die ander om my naarstigtelike soeke na kennis te stil.

Ek gaan jou mis as ek volgende week vir al ons ou vriende gaan kuier.

RIP my vriend die dominee.

‘n Bier teen die Karoo koue

WAT gebeur as ’n klomp wynmense van die Wes-Kaap die Oos-Kaapse koue aandurf?

Hier is ’n storie wat my ma my gister vertel.

’n Groep jagters van die Kaap het verlede week daar in ons klein Karoodorpie beland en Saterdag ’n bietjie tyd afgeknyp om die dorp te verken.

Natuurlik is daar heelwat sosiale aktiwiteite om van uit te kies in ’n stofpaddorpie met net ses strate, en hul eerste stop was by die bier-brouery, een van ons trotse besienswaardighede.

Daarna is hulle na die plaaslike watergat (die enigste) om die rugby te gaan kyk. Daar is darem deesdae ’n pool-tafel ook en halftyd blêr 1993 se treffers uit die blikkerige radio.

Saterdae beteken ook dat daar lewe by die tennisklub is, selfs al trek die termometer ver onder vriespunt.

Dis die boere se weeklikse saamtrek en die toergroep het ná afloop van die rugby daarheen gesuiker – net vir een of twee drankies.

Reeds lekker warm na al hul sosiale rondtes, het hulle by die plaaslike restaurant gaan eet, waar ’n Switserse sjef die heerlikste pizzas maak.

Dis ook dáár waar hulle die idee kry om iets buitengewoon te doen.

In ’n dorp soos Nieu-Bethesda is dit moeilik om iets aan te durf wat nog nie reeds gedoen is nie, en toe my pa begin giggel, weet hulle daar is iets aan’t broei.

Jare gelede, tydens ’n kuier by ’n destydse restaurant (die plek se naam was Stokkiesdraai), het my ouers na heelwat wyn besluit hulle gaan die “goue myl” aandurf.

Met net tekkies aan vir die dorings, het hulle om die kerk in die middel van die dorp genael. Gelukkig is daar nie straatligte in die donker Karoo nie!

Die jagters besluit toe om dié aktiwiteit een stap verder te vat, net om ánders te wees.

Twee van die manne het hul klere net daar gelos, en gewapen met ’n hoed – ingeval hulle iemand teëkom – begin hardloop, reg om die kerk (wat drie blokke van hul beginpunt af is).

Wes-Kapenaars laat hulle nie sommer onderkry nie, en om seker te maak dat niemand gou van dié insident nie vergeet nie, het hulle doodluiters die kroeg binnegestap, hoed voor die skaamte, en ’n bier teen die bibberende koue bestel.

As boerseuns begin vrou soek

EK hou van boerseuns. Ek hou van hul mentaliteit, die groot bakkies, die breë skouers en die plat-op-die-aarde-houdings.

Dit kan egter nie gesê word van alle boere nie, en dit sluit ook nie alle ander mans uit nie. Maar die rede vir dié stelling is eintlik dat ek onlangs die lys van die nuwe Boer soek ’n Vrou-reeks se seuns gesien het.

Een naam lyk toe al te bekend, en ná ’n bietjie navorsing, kry ek dit jou werklikwaar. Die oulike boerseun wat destyds saam met my op skool was het wraggies vir die program ingeskryf!

Met die eerste reeks het ek dit régtig oorweeg om in te skryf. My boer was gekies, my foto geneem en ek wou met alle mag die ding pos. Tog het iets my daarvan weerhou. Nog nooit was ek só bly oor ’n besluit nie.

Die boer wat ek destyds gekies het (ons sal eerder nie name noem nie) het toe heeltemal anders uitgedraai as wat sy oulike video belowe het.En toe begin die skandale. Veral ná die tweede reeks het heelwat stories uit die geraamtekas van dié boere en hul meisies begin klim. (In die Karoo loop stories wyer as wat die pers ooit kan!)

Ek lees nou die dag weer ’n brief van ’n boervrou wat in die Rapport gepubliseer is oor haar lewe op die plaas. Sy vertel van haar ervaringe en dit is duidelik dat die plaaslewe definitief nie so romanties is soos dit in dié program voorgehou word nie.

Dit is ’n harde wêreld waar vroue moet saamwerk om van die besigheid ’n sukses te maak. Jy ruil hoëhakskoene in vir top-boots en kakies, en fancy karre vir ’n plaasbakkie. Die meeste boervrouens moet ’n tweede besigheid bedryf net om die kinders deur skool en universiteit te kry. Van my skoolmaats, ook van die plaas, moes van jongs af reeds naweke help om die vee in die kraal te kry.

Jou kinders is bevoorreg om in die platteland groot te word, maar die skole is soms so ver dat hulle van vroeg reeds kosskool toe moet gaan.

Tog moes ek twee keer kyk na die foto’s van die seuns wat hulself op só ’n manier in die mark plaas. Hulle is nie te sleg om na te kyk nie, hou almal van piekniek en een vlieg selfs ’n helikopter.

Dalk is daar goeie boerseuns daar buite. Ek is net nie seker of hulle op nasionale televisie te vinde is nie.

Ester die spook en hysbak-ry

EK lees nou die dag ’n rubriek oor hysbak-ry. Ek is self versigtig vir hysbakke, veral as gevolg van ’n storie uit my universiteitsjare.

As Puk-student was ek in my eerstejaar in ’n koshuis met sewe verdiepings ingedeel, met my kamer op Vloer Ses.

Die eerste drie weke van universiteit, tydens ontgroening, mag die Dore (soos eerstejaars daar genoem word) glad nie die trappe gebruik nie. Gelukkig het ek nie op Vloer Sewe gewoon nie!Dié koshuis het egter ’n lekker spookstorie aan hom.

Blykbaar, sowat 40 jaar gelede, was daar ’n meisie in dié koshuis met die naam Ester. Sy het op die vierde verdieping gewoon en was blykbaar baie akademies. Só akademies dat sy eendag, neus in ’n boek, na die hysbak geloop en die knoppie gedruk het.

Toe die deure oopmaak, het sy, sonder om te kyk, ingestap, en nie besef dat die karretjie self nie daar was nie. Sy het tragies na haar dood onder in die buik van die koshuis geval. Of so iets. Daar is baie variasies op die storie.

Ester is nog steeds daar. Sy loop laat saans in by die hysbak, uit op die vierde verdieping, en weer op en af. Wanneer jy by die deur inloop, maak dit so ’n piiieeep-geluid. Saans, wanneer die hysbak vanself so op-en-af gaan, kan jy dié geluid gehoor, maar niemand kom vanuit die hysbak nie te voorskyn nie. Wanneer iemand dit ervaar, groet hulle maar vir Ester en stap vinnig aan.

Soms het dit gebeur dat wanneer jy vrek haastig is en tot by die hysbak hardloop, die deure vanself oopswiesj, voordat jy nog die knoppie kon druk.

Ek glo nie eintlik in spoke nie, maar indien jy in die hysbak geklim het sonder om vir Ester te bedank vir die deure se oopmaak, was dit maande voordat dit weer gebeur. Serious!

Voel dit… nog net tien dae…

DIS maar ’n blou Maandag, blouer as gewoonlik omdat die Blou Bulle jou waarlik die Super 14 gewen het.

Ek was heel mistroostig toe die laaste fluitjie blaas. As iemand wat nie regtig ’n rugby-ondersteuner is nie, het ek die Stormers kliphard aangemoedig en was skoon hees geskree.

Ek hoop nou maar Bafana-Bafana doen iets ongeloofliks by die Fifa 2010 Sokkerwêreldbeker wat vandag net tien dae weg is.

Dis wonderlik hoe die land ewe skielik begin saamstaan. Die Blou Bulle en die sokkeraanhangers in Soweto wat soos wafferse drinkebroers in dieselfde kroeë uithang, die vuvuzelas wat dreun en Blou Bul-makarabas – die handgeverfde hardehoed met die span se kleure en vlae daarop – wat orals te sien was by die rugby-finaal.

Hier in die Kaap word jy ook al hoe meer bewus van ’n gees van samesyn. Ek verdwaal Vrydag vir die hoeveelste keer in die stad, maar met Google Maps op my foon, probeer ek weer op die regte pad kom.

Ek is nog besig om my karige navigasie-kennis toe te pas, toe ek iemand hier by my hoor skree: “Ayoba Sisi, it’s Ayoba time!”

In ’n taxi langsaan hang ’n man by die venster uit. Dis net wit tande in die vriendelike swart gesig wat breed glimlag, terwyl hy na my foon beduie. Dit was onmoontlik om nie terug te glimlag nie.

Soos die taxi in volle vaart wegtrek, skree die man al waaiende, hand teen sy oor: “Don’t call me, I will call you!”

Miskien gaan die sokker regtig ’n verskil maak in die land. Rassisme en vooropgestelde idees oor die verskille in kulture kan afgebreek word deur mense uit alle oorde wat almal ’n Suid-Afrikaanse vlag aan hul voertuig hang en ’n Bafana-trui op Vrydae dra.

2010 gaan dalk nie so ’n groot impak hê soos baie mense gehoop het nie. Dit gaan nie armoede uitroei nie. Dit sal verbygaan en Suid-Afrika sal terugkeer na sy gewone ritme, soos Stellenbosch ná die Karnaval: bietjie verweer, maar steeds aan die gang.

Dalk sal ons almal ietwat meer verdraagsaam aan die anderkant uitstap wanneer ons as één geel en groen massa opgestaan en “Laduuuumaaa” geskree het!

Enig in sy soort

Ek kry nou die dag ‘n oproep van ‘n ou wat ek in ‘n baie lang tyd nie gesien het nie. Hy was laas week hier vir ‘n konferensie en nooi my toe vir ete.

Ek het nie eers meer sy nommer op my foon gehad nie, so die oproep was nogal ‘n verassing. ‘n Baie goeie een.

So Donderdagaand trek ek mooi aan, maak myself reg vir die herontmoeting. (Dis seker ook hier waar ek moet byvoeg dat ek hom so bietjie verafgod het in die tyd wat ek hom geken het. Hy het kop en skouers bo die ander mans in die klein dorpie waar ons gebly het, uitgestyg.)

Die herontmoeting was nie te sleg nie. Hy lyk natuurlik meer handsome as wat ek onthou en ons ry na die naaste restaurant.

Daar het baie dinge gebeur in die laaste twee of drie jaar. Hy het Joburg toe getrek vir daardie groot nuwe werk, en ek het tussen klein dorpies rondgetrek tot ek hier geland het. Daar was baie stories om te vertel.

Ons het lekker gelag en gesels en besin oor die dinge van ouds en die dinge van nou. Ek het lanklaas so lekker saam met iemand gekuier.

Toe ek huis toe ry daardie aand, besef ek weer hoekom hy vir my so ongelooflik was. Hy is als wat ‘n man moet wees: intelligent, suksesvol, en hy kan lag vir homself. Natuurlik bly hy tienduisend myle weg in die hart van Gauteng.

Die semi-boyfriend het natuurlik ook in die gesprek opgekom en ek het besef ek settle defintief vir tweede beste. Ek maak toe aan myself die belofte dat ek dit nie weer kan doen nie. Semi-boyfriend se moer. Ek soek iemand wat my waardeer vir wie ek is.

So bid ek maar dat hy nie enig in sy soort is nie. Almal verdien iemand wat hul hart vinniger laat klop, hul kan laat lag en ‘n intelligente gesprek kan voer, selfs al is dit oor iets onintelligent.

Ek soek so ‘n man. Een wat my kan laat lag oor myself.

Groener weivelde

EK is nie juis groot op die groener wyse van lewe nie.

In die winter verkies ek my water, my huis én my bed lekker warm. Dít verg alles ongelukkig elektrisiteit, selfs al gebruik jy net die ketel om jou warmwatersak te vul.

Soos die gesegde lui: Wat jy saai, sal jy maai. Ek gaan lees toe oor hoe om groener te leef en hoewel van die raad prakties genoeg is, lyk baie van dié wenke na vrek baie moeite! Hier is ’n paar wenke van die kenners.

Volgens geleerdes moet jy eerder jou inkopiesakkies hergebruik, as om elke keer nuwes te koop. Ongelukkig lê my sakkies altyd by die huis, en dit sou onprakties wees om 5 km te ry net om geld te spaar op ’n sakkie. Ek maak dus ’n punt daarvan om die platieksakkies weer te gebruik. Soos hulle sê: “reduce, reuse, recycle”.

Jy kan ook die armes help deur jou polistireenbakkies, waarin vleis en groente verpak word, te was en te skenk aan Stellenbosch Voedingsaksie, wat dit gebruik as borde.

Ander raad van die kenners is om jou eie koffiebeker, plastiekbakkie of messegoed saam te piekel en dit dan te gebruik, eerder as die polistireen- of plastiek-opsies by wegneemwinkels. (Sonder om snaaks te wees, maar regtig? Wie dra dag en nag ’n hele stel eetgerei met hul saam?)

Vervang al jou gloeilampies met flufluoorlampe wat minder krag gebruik, skakel ongebruikte ligte af en maak seker dat al jou elektroniese toestelle by die muur afgeskakel is.

Een van die maklikste dinge wat almal kan doen, is om van gryswater-sisteme gebruik te begin maak.

As dit nie reën nie, moet die tuin steeds water kry. Deesdae doen ek die moeite om my wasmasjien se water op te vang en met ’n gieter alles in die tuin wat lyk of dit kan blom, water te gee.

Daar is ook ’n paar tamaties en ’n spinasie-plantjie wat in die hoek van die tuin groei, wat weer beteken daar is altyd vars groente op die tafel. ’n Pot vars kruie kan verder help om geld te spaar en is boonop baie lekker.

Ek is nie die mees verantwoordelike energie-verbruiker nie, maar deur net ’n paar van dié wenke toe te pas, is my elektrisiteitsrekening die afgelope paar maande heelwat laer!

Wie sê ’n ou viool kan nie ’n nuwe deuntjie leer speel nie?