Tuinmaak is nie vir sissies nie!

So kom ek nou die dag sak-en-pak terug Stellenbosch toe ná ’n té kort vakansie ind ie Oos-Kaap, motor gelaai tot heel bo teen die dak.

Tussen al die klere en eetgoed wat ma saamgestuur het om die jaar mee te begin, is daar ook ’n kartondoos vol plante, al die pad van George af waar my tante haar eie garden service run.

Dié plante moes die toer terug huis toe, en eers weer ’n week later Stellenbosch toe saam my aandurf, maar aangesien dit ’n verskeidenhied vetplante is, het hulle nogal goed gehou.

Sien, dis nou een van my nuwejaarsresolusies, om meer stokperdjies te begin. Die eerste is natuurlik om my hand in die sand te slaan en te begin plant.
Dit was egter glad nie so maklik soos ek gedink het nie.

Nie eers die feit dat dit vetplante is, kon keer dat die arme nuwe plantjies in die Stellenbosse hitte verlep nie. Of dalk wou hulle juis minder water gehad het en dis dié dat daar hulle so lamlendig begin hang het na die eerste dag in die grond.

Sien, my tuin is nou nie die maklikste om aan die gang te hou nie. Die spruiers wat ons tuinman elke dan en wan groot ooopdraai, raak nie al die hoekies nie en dus is die een kant van die huis ’n tropiese, groen woud, en aan die anderkant ’n woestynagtige landskap waar die gras nie eers wil groei nie.

Tuinmaak is nou maar eenmaal nie vir sissies nie. As my plante teen die einde van volgende week staan, plant ek tamaties (wat volgens die interweb soos onkruid groei in enige klimaat), maar as hulle vrek gaan ek ’n paar klippe aanskaf en die dor dele maar so goed moontlik probeer verberg.

Ek vermoed ek het nie juis groen vingers nie…

Tolke en die taaldebat

NÁ Vredenheim se Taalberaad, besprekings oor Afrikaans in universiteite, nóg praatjies en nóg konferensies, het die Universiteit van Stellenbosch uiteindelik ingegee en ’n mosie aanvaar om ’n tolkdiens te begin ondersoek.

Ek is natuurlik eensydig as dit by dié kwessie kom.

As ’n oud-Puk het ek langs Zoeloe-, Tswana- en Xhosa-studente in klasse gesit en hulle kon verstaan wat aangaan omdat die tolk deur die gehoorbuis in hul taal gepraat het. Of ten minste in Engels.

Die US het egter vasgesteek die T-opsie – twee tale in een klas, helfte Afrikaans, helfte Engels. Ongelukkig het die klasse dan dikwels oorgeslaan na net Engels en moes die Afrikaanse studente sukkel om by te bly.

Die twee studenteverenigings wat baklei vir Afrikaans, Adam Tas en die Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans (TBAK), het volgehou dat hulle tolkdienste wil hê. Hulle het gesien dit werk elders, en dit sou beteken dat hulle steeds in hul moedertaal onderrig kan ontvang.

Die US se ingenieursfakulteit het die taak in eie hande geneem. Hulle het ’n tolkdiens ingespan en die studente meen dit werk, selfs in ’n gespesialiseerde vakgebied soos ingenieurswese, wat deurtrek is van talle tegniese terme.

Nou het die bestuur van die US-bestuur ook op die wa gespring met die besef dat dit moontlike ’n oplossing vir teenkanting teen die T-opsie kan wees en ’n mosie aanvaar om dit te toets.

By die Vredenheim-beraad het die vise-kanselier van die Noordwes Universiteit, dr. Theuns Eloff, beaam dat die implementering van ’n tolkdiens, soos dié op die Puk, heelwat gaan kos.

Wanneer daar egter gekyk word na die universiteit se jaarlikse uitgawes, beslaan dit slegs ’n fraksie daarvan. En as die sisteem eers in plek is, is die bedryfskoste minimaal.

Ek is baie bly vir die toekomstige Maties. Nou hoef die Xhosa-outjie nie meer voort te sukkel in Afrikaans nie, maar kan die lesing volg in Engels en hopelik later Xhosa, terwyl die Afrikaanse studente steeds trots Afrikaans kan wees. Die bestuur van die US klink nog skepties, maar tyd sal wel leer of die stelsel werklik suksesvol is.

Maar soos ek sê, ek is mos ietwat eensydig.

Die Manakwalanners

So land ek nou die dag op ‘n Donderdagaand voor die televisie.

So halfpad deur die aand se kanaal-hop begin die ou-ou reeks Die Manakwalanners te speel.

Dié storie uit vervloë dae het my uit my kinderdae bygebly. Toe die musiek begin speel was ek (soos daai toneel in Rattatouille) terruggevoer na my kinderdae. Die onthou wat jou wegruk uit die koue winter tot die knus leefkamer van die plaas. Die reuk van ma se kos op die Aga-stoof en harde son, stof en die wag vir reën.

Almal onthou daardie een reël wat lui: “Is, myse ma se ok so!”

Dit was die derde episode getiteld “Die Boodskap”. Boerie stuur vir Abraham dorp toe om vir sy girl ‘n boodskap te neem. Hy moet dan die antwoord terugbring. Dit was destyds my gunsteling episode! Die boodskap was drie van daardie lekkergoed met die geskrywe op: “Jy is welkom”, “Nie vanaand nie” en nog een wat ek nie kan onthou nie… was dit “kan ek kom kuier” of “ek is lief vir jou”?

Terwyl die ander karakters voortgaan met die lewe in Namakwaland, speel die liefdesverhaal hom af.

Ná heeldag se wag kom Abraham terug met die boodskap. Kop omlaag vertel hy vir Boerie dat hy die boodskap verloor het. Hy het gestop om water te drink by die dam en die lekker het uit sy sak geval, saam met hom in die water beland.

“Ek het lank gesoek, Boerie, vir die boodskap. Maar die geskrywe het daar in die dam agter gebly. Toe ek die lekker kry was hulle reeds weg, en ek kon die geskryf nêrens in die water opspoor nie…” “Nou sal ek nooit weet nie…” antwoord Boerie.

Toe ek die eerste keer dié episode gesien het, was ek ook lus om verlief te raak. Ek wou ook boodskappies ontvang van ‘n man wat heeldag wag vir die antwoord.

Ongelukkig stuur niemand meer lekkergoed met geskrywe op nie. Hulle stuur SMS’e of add jou op Facebook of stuur ‘n e-pos.

Wat het van daardie ou-wêreldse romanse geword?

Die ding van joernalis-wees

DIE probleem met joernalis-wees lê nie in hoe klein ons salarisse is, hoe subjektief die mens is en of die regering ons probeer stilmaak nie.
Die wortel van die probleem lê in wat ons alles wéét.

Joernaliste is bekend daarvoor dat hulle senuwee-ineenstortings kry, té veel rook en drink en hul lywe met té sterk bekers boeretroos straf.

“Elke joernalis het ’n vice. Wat is joune?” het iemand my een keer gevra voor ek nog begin werk het.

Toe ek onlangs oorgeneem het as misdaadverslaggewer is ek uit my gemaksone geruk. Dis lekker om te skryf oor al die goeie dinge wat in die dorp gebeur. Die organisasies en mense wat ’n verskil maak, blommeskoue en musiekblyspele.

Dís egter nie altyd noodwendig nuuswaardig nie. Die mense wil weet van die moord en doodslag, die dinge wat ons stadsvaders en -moeders aanvang en die misdaadsyfer.

Ewe skielik hoor jy van elke gewapende rooftog, elke moord, elke verkragting, elke huisroof. Jy praat met die families wat agterbly en sien die letsels wat misdaad laat, en dis meestal nie die tasbare wat so erg is nie.

Jy weet ook hoe hard die polisie werk om ’n verskil te maak, maar aan die einde van die dag staan jy steeds verstom oor die geweldadigheid van die mens.
Dís hoe ek gevoel het toe ek op skool Lord of the Flies gelees het.

Dis hoe ek steeds voel as ’n grusame fliek handel oor dwelms, moord en verkragting. Die ongemaklikheid wil maar net nie wyk nie.

Maar dis wat die mense móét weet. Hoe weerhou jy iemand daarvan om in gevaarlike areas te loop as hulle nie bewus is van die gevare in daardie area nie.

Hoe keer jy misdadigers aan as die mense nie weet vir wie om na uit te kyk nie?

Die idee is nie om paranoia aan te vuur nie, maar as joernaliste weet ons (meeste van die tyd) als wat aangaan.

Ons ken die feite en hoor die skinder en ons skryf dan slegs die nodigste.
En dan bid jy maar dat volgende week beter nuus kan bring. Dat die volgende week nét goeie nuus gaan bring.

Maak sélf ‘n verskil

HOOP is ’n vreemde ding.

Daar is baie dinge wat ’n mens hoop vir die lewe gee. Die man wat jou laaste R100-noot langs jou motor optel en dan wonderbaarlik aan jou terugbesorg. Die karwag wat jou bel om te sê hy het jou gesteelde beursie opgetel. Die polisie en die regstelsel wanneer hulle ’n berugte skelm aankeer, en dié man beland uiteindelik agter tralies.

En die munisipaliteit wanneer hulle iets doen wat ’n hele gemeenskap se lewensomstandighede verbeter.

Ek het die laaste ruk die geleentheid gehad om ’n paar mense wat régtig ’n verskil maak, te ontmoet. Eers in Kayamandi, waar ’n groep mense uit Sone N begin het om hul eie strate skoon te maak.

As jy tussen al die vervalle laslappie-huisies geloop het, sal jy nou eensklaps die verskil sien. Die huisies staan so styf teen mekaar dat voertuie nie daar kan deur nie. Riool stroom gewoonlik in die strate af deur die massas rommel wat niemand skoonmaak nie.

Sedert van die inwoners nou wel opruim en eienaarskap van hul eie gebied neem, begin al hul bure saamwerk. Kinders wat rommel strooi, word gou geskel en dink twee keer voor hulle dit weer doen. Die bure maak nou self hul voortuine skoon en rommel word in swartsakke geberg.

In Cloetesville weer, het ’n groep mense begin tuinmaak om die berge rommel wat langs die pad gegooi word, stop te sit. Uit hul eie sakke en met hul eie hande het hulle begin om tuine te maak waar daar eens rommelhope was.

Dít is wat ’n mens hoop gee vir ons land. Die hartseer saak is dat die rommelhope gewoonlik net ’n entjie aanskuif. Maar die ouens wat eienaarskap neem en hul bes doen om ’n verskil te maak, is ons land se redding.

Die jongspan sien hoedat hul ooms, neefs en tannies werk om hul eie omstandighede te verbeter. Hulle sien hoe dit is om skoon strate en netjiese tuine te hê, eerder as rommel wat die plek vol waai.

Dis ’n les wat nie op enige ander plek as jou eie gemeenskap geleer kan word nie.

Apatie het nog nooit iemand iets in die sak gebring nie. Wat doen jy om ’n verskil te maak?

Salsa vir ‘n somerlyf

REEDS tydens my jare op universiteit het ek geleer hoe om te langarm-sokkiedans in Potchefstroom se Impala Hotel.

Sokkie is egter baie anders as al die ander vreemde dans-manoeuvres wat deesdae vir baie ’n nuwe manier van oefen is.

So land ek dié naweek by ’n Salsa-klas. Baie huiwerig wou ek egter eers op die kantlyn sit en kyk hoe die dinge werk, eerder as om kop eerste in die diep water in te spring.

Die ander dansers het dit so maklik laat lyk. Een-twee-drie, vier-vyf-ses-sewe. Die telling is bietjie onverstaanbaar. Daar moet mos meer as sewe stappies wees? Dis omdat jy eintlik op twee van die tellings stilstaan, dus mis jy vier en agt, word daar aan my verduidelik. Drie stappies in vier mates.

Die salsa het sy oorsprong by die Cuban Son (son beteken klank in Spaans), ’n mengsel van Spaanse kitaar en sang, met perkussie uit Afrika. Dit het in die 1930s wêreldwyd beroemdheid verwerf en sedertdien het die salsa ook sy voetspoor reg oor die wêreld gelaat.

Ná ’n gespook word ek uiteindelik geboelie om die vloer te betree en in die hande van ’n gesoute danser, val my voete later nie meer oor mekaar nie. Dit sukkel-sukkel maar nog om die draaie, want om jare se sokkiedans uit jou voete te kry, is nou maar een maal nie maklik nie.

Die ander dansers swaai en draai, hul heupe beweeg al te mooi op die vinnige maat van die musiek terwyl hulle ingewikkelde stappies maklik raakvat. Mens wil eintlik hande begin klap.

Vandag is my agterstewe behoorlik seer. Ek vermoed dat die salsa meer oefening is as wat dit lyk. Die somer is mos hier en dit sal goed wees om so bietjie van die winter se lae af te skud.

So ek sien julle daar volgende Sondag?

En toe was daar toeval. Of was dit?

(Ou storie, geskryf tydens KKNK)

TERWYL rasse-haat soos ’n veldbrand in die dorre Karoo versprei, druis Julius Malema se lied uit Zimbabwe en donder deur die land se mense.

Nie eers die wet kan sy woorde keer nie, en dit kring uit soos ’n druppel se effek in ’n dam. Dozi spot nog oor die onregverdigheid van die rassisme, maar maak meanwhile net sy eie naam gat. En toe sterf Eugéne Terre’blanche.

Vrees vlam op in alle arena’s terwyl Zuma doodstil sit op sy troon waaragter sy harem skuil.

Die AWB dring aan op ’n volk-staat waar hulle sonder Nigeriërs, moord en drugs kan bly. Hulle is reg vir oorlog, en dan weer nie, en dan weer reg.

My ma het my in my tienerjare geleer dat daar nie iets soos toeval is nie. Deel jy dit op in drie dele staan daar: Toe val Lig.

Is dit dan net toeval dat al hierdie dinge so op dieselfde tyd gebeur? Jare lank het die AWB ’n terreur-bewind gevoer.

Terrible Eugéne was selfs daaraan skuldig bevind dat hy een van sy plaaswerkers probeer vermoor het.

Nou het die wiel gedraai, noudat die ANC-jeug praat op Facebook van hoe hulle die wit mense gaan uithaal. Sou enige ander boer dieselfde reaksie uitgelok het?

Uit Oudtshoorn begin Willim Welsyn een van sy songs sing.

Dis reeds twee jaar terug geskryf en klaar op sy nuwe CD, maar dié keer klink die woorde bietjie anders as in die verlede. Getiteld “Miskien was dit jy” klink die lirieke eerily soos ’n voorbode van die laaste week se gebeure:

“Broos soos ’n boer wat bid vir reën; seer soos ’n pa sonder ’n seun; wat dood moes gaan onder die maan; toe die boer se dors sy hart laat staan. Dis ’n lem van ’n stem wat sny deur die boord; dis die druk van die dors wat sorg vir die moord. Van ’n mens wat mors, in die plaas se water; spyt kom te vroeg pleks van later.

“Dis ironies dat die boer se seun se begrafnis geseën is met die reën.”

Maar soos ek sê, my ma het my geleer om nie sommer net te glo in toeval nie.

Kinder-biografieë. Huh?

EK is nou nie eintlik een vir biografieë lees nie, maar dis mos nou die in-ding.

Daar is heelparty van dié wat ek wel sal oorweeg om te lees soos Long Walk to Freedom, Bill Clinton se My Life, Kurt Cobain se skrywe, Hansie Cronjé s’n en The Diary of Anne Frank.

Maar tussen al die fantastiese mense, politici, Nobelprys-wenners, sportsterre en ware helde pryk daar een van die dae ’n nuwe titel: Justin Bieber se skrywe oor sy, wat, 12 jaar op aarde? En ek het gedink Victoria Beckham s’n is ’n bietjie vroeggebore!

Vir die van julle wat nie weet nie, Justin Bieber is die jong Kanadese musikant wat deur Youtube en goeie geluk bekendheid verwerf het.

Deur in-diepte navorsing te doen (te danke aan Wikipedia) het ek gedink ek sal hom gou uithelp en dit sommer vir hom doen. Justin is op 1 Maart 1994 gebore (ja, hy is net 16) in Stratford, Ontario. Sy ma, Pattie Mallette, was maar 18 jaar oud toe sy swanger geraak het en sy het hom as enkelouer grootgemaak. Sy pa se naam is Jeremy Bieber.

Justin het homself leer klavier, tromme, trompet en kitaar speel. Sy ma het graag sy opvoerings op Youtube geplaas sodat sy familie kan sien, en hy het al hoe gewilder geraak.

Dís toe Scooter Braun, voormalige bemarkingsbestuurder van een of ander musieknaam, hom raakgesien.

En siedaar! ’n Ster is gebore. Justin het op 13-jarige leeftyd ’n kontrak met Usher aangegaan.

Nou is hy reeds vir twéé jaar lank bekend. Hy het reeds twéé albums uitgebring: My Life en My Life 2.0. Oor sy bekendste liedjie “Baby” is tieners wêreldwyd gaande.Maar dis ’n moeilike lewe in die kollig.

Sy fanatiese aanhangers het mekaar al so vertrap dat sy vertoning gekanselleer moes word en sy bestuurder in hegtenis geneem is omdat hy nie vroeg genoeg ’n Twitter-boodskap uitgestuur het om die mal skare te kalmeer nie.

OK, my bankrekeningnommer is 331-555-213.

My Antie Kraai

EK lees gisteroggend Valiant Swart se rubriek oor huishulpe.

Hy vertel hoe so iemand deel kan word van jou gesin en die lief en leed kan deel. Toe ek baie klein was, het ek só ’n oppasser gehad. Haar naam was Antie Kraai.

Eintlik was dit Angeline­ Kraai, maar daai lange naam was een te veel vir my kindertong om reg te kry en sy was sommer net my “Antie Kraai”. Haar mense het haar egter al die jare Antie Evelyn genoem en dis ook met dié naam wat sy ’n celebrity geraak het.

Vir die eerste paar jaar van my lewe moes die liewe Antie baie rond hardloop om seker te maak ek en my ouer sussie bly uit die modder en die moeilikheid, terwyl ons nie ons kleiner boetie uitbuit nie.

Sy het gesorg dat ons tande geborsel en hare gekam is. Sy het ons beddens opgemaak en kaste reggepak. Sy het my verskriklik bederf. Sy het altyd gelag as sy vertel hoe ek “my pê” wou hê. My ousus was voor my uit die doeke en ek wou ook soos sy grootmeisie-onderklere dra. Dis steeds een van die dinge wat sy oorvertel wanneer sy my sien.

Haar man, Flip Oliphant, was my pa se voorman, en hy het later begin om vir die munisipaliteit te werk en hulle is van die plaas af weg.

Maar my Antie Kraai was ’n goeie sakevrou, en aangesien Nieu-Bethesda (waar hulle nog steeds woon) die meeste van sy inkomste uit toerisme genereer, het sy die geleentheid aangegryp en ’n restaurant begin.

Vandag is sy bekend vir haar drie-gangmaaltye – tradisioneel met ’n township-invloed. Bobotie, roosterbrood en moerkoffie uit die boonste rakke. Die heerlikste kos bedien in haar eenvoudige huisie in Pienaarsig wat oor die sokkerveld uitkyk. Sy sal ook tydens die maaltyd met jou gesels en heelwat te vertel hê oor haar eie lewe, haar kinders en die gemeenskap.

Menige joernalis het al haar drumpel deurgeloop en seker gemaak haar bekendheid groei.

Ek maak deesdae my eie bed op en pak self my kaste reg, want Antie Kraai het haarself van ’n geliefde huishulp opgewerk na ’n bobaas-kok en vandag is sy famous.

Oom Piet se hande

EK is ’n groot aanhanger van klein kroeë.

Daardie plek waar jy instap en jy ken almal langs die kroegtoonbank, van die ou omie wat van 10:00 af in die hoek sit en die lewe bepeins oor ’n glas wyn, tot die jong wulpse groep meisies wat flirt vir ’n drankie en die ou toppies wat toeka se stories sit en vertel.

My gunstelinge is die Ba­thurst­­ Arms in Bathurst in die Oos-Kaap, Skebanga’s in Noordhoek (blykbaar maak hulle die beste pizza in die land), Die Waenhuis in Nieu- Bethesda (waar ek altyd gedurende vakansies gewerk het) en hier in Stellenbosch het ek natuurlik ook ’n bekende watergat. Oe, en Mar Azul in Astonbaai is ook nie te vergeet nie!

Mar Azul op Astonbaai se strand.

Tydens my verblyf in Jeffreysbaai het ek ’n klein plekkie in ’n steeg aan die onderkant van Da Gamastraat leer ken met die naam van Hurdy Gurdy’s (vertaal as draai-orreltjie).

Piet Vermaak, die eienaar en barman, was ook ’n musikant en Vrydae kon jy daar na sy musiekgroep luister.

Daar was ook ’n paar locals wat altyd daar rondgehang het. Kobus werk onder die Khoisan en het allerhande stories oor dié kultuurgroep gehad om te vertel.
Hy was daar met Saartjie Baartman se her-begrafnis en baklei steeds hand en tand teen die ontwikkelaars wat die Khoi se geskiedkundige areas onder strandhuise wil toebou.

Die kaptein maak ook altyd ’n draai wanneer hy aan wal kom, en dan hoor ons van al die drama op see.

Oom Piet het self baie stories om te vertel, van sy werk in die regering en sy jare as barman.

Dit het egter nou alles verander. Ek verneem nou die dag dat Hurdy Gurdy’s verkoop is. Die plek se naam is nou Cheers @ J’Bay.

Piet is bedlêend. Hy wil niemand meer sien nie. Sy jare as rocker het hul tol begin eis en sy lyf is moeg.

Die ergste is dat hy gangreen in albei sy hande opgedoen het. Hulle sal dalk nou afgesit moet word. Daar word nog gewag op ’n tweede opinie.

Swaar is my hart as ek wonder hoe ’n musikant maak sonder sy hande.