EK hou van boerseuns. Ek hou van hul mentaliteit, die groot bakkies, die breë skouers en die plat-op-die-aarde-houdings.
Dit kan egter nie gesê word van alle boere nie, en dit sluit ook nie alle ander mans uit nie. Maar die rede vir dié stelling is eintlik dat ek onlangs die lys van die nuwe Boer soek ’n Vrou-reeks se seuns gesien het.
Een naam lyk toe al te bekend, en ná ’n bietjie navorsing, kry ek dit jou werklikwaar. Die oulike boerseun wat destyds saam met my op skool was het wraggies vir die program ingeskryf!
Met die eerste reeks het ek dit régtig oorweeg om in te skryf. My boer was gekies, my foto geneem en ek wou met alle mag die ding pos. Tog het iets my daarvan weerhou. Nog nooit was ek só bly oor ’n besluit nie.
Die boer wat ek destyds gekies het (ons sal eerder nie name noem nie) het toe heeltemal anders uitgedraai as wat sy oulike video belowe het.En toe begin die skandale. Veral ná die tweede reeks het heelwat stories uit die geraamtekas van dié boere en hul meisies begin klim. (In die Karoo loop stories wyer as wat die pers ooit kan!)
Ek lees nou die dag weer ’n brief van ’n boervrou wat in die Rapport gepubliseer is oor haar lewe op die plaas. Sy vertel van haar ervaringe en dit is duidelik dat die plaaslewe definitief nie so romanties is soos dit in dié program voorgehou word nie.
Dit is ’n harde wêreld waar vroue moet saamwerk om van die besigheid ’n sukses te maak. Jy ruil hoëhakskoene in vir top-boots en kakies, en fancy karre vir ’n plaasbakkie. Die meeste boervrouens moet ’n tweede besigheid bedryf net om die kinders deur skool en universiteit te kry. Van my skoolmaats, ook van die plaas, moes van jongs af reeds naweke help om die vee in die kraal te kry.
Jou kinders is bevoorreg om in die platteland groot te word, maar die skole is soms so ver dat hulle van vroeg reeds kosskool toe moet gaan.
Tog moes ek twee keer kyk na die foto’s van die seuns wat hulself op só ’n manier in die mark plaas. Hulle is nie te sleg om na te kyk nie, hou almal van piekniek en een vlieg selfs ’n helikopter.
Dalk is daar goeie boerseuns daar buite. Ek is net nie seker of hulle op nasionale televisie te vinde is nie.

Wee, jy… Ella’kie… My hart soek ook ‘n boerseun! Ek ken twee dames wat aan die eerste en tweede reeks deel geneem het en albei is bitter spyt hulle het hulle self bloot gestel aan die program. Dus sal ek nie inskryf nie…
Maar ek twyfel glad nie dat daar wel goeie boerseuns daar buite is nie! 😛